16 vas vir twee bendeverkragtings

Sewe mans en nege tienerseuns is in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van twee vroue in afsonderlike voorvalle.

Die sewe mans is die naweek in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn paartjie beroof het en die vrou verkrag het in Makwassie naby Wolmaransstad in Noordwes. Kapt. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, sê die mans, tussen die ouderdomme van 18 en 21, was met messe gewapen en het die egpaar aangeval kort nadat hulle Saterdagoggend ʼn kroeg verlaat het. Sy sê die mans het die vrou verkrag terwyl haar vriend na die polisiestasie gehardloop het om hulp te ontbied. Die mans sal Dinsdag in die Makwassie-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof en verkragting.

Intussen berig EWN dat nege tienerseuns Maandagmiddag in hegtenis geneem is nadat hulle glo Sondagoggend ʼn egpaar in die Vrystaat aangeval het en die vrou verkrag het. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, het aan EWN gesê die seuns het die vrou na ʼn steengroef geneem waar hulle haar verkrag en aangerand het terwyl haar man hulp ontbied het. Volgens die berig sal die seuns na verwagting Woensdag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.