17 beseer tydens stormloop by Pretoriase treinstasie

Altesaam 17 mense is vanoggend beseer na ʼn stormloop by die Bosmanstraattreinstasie in Pretoria. Volgens Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, is tien mense ernstig beseer en na die Steve Biko Akademiese-hospitaal geneem. Sewe mense is na die Tshwane-distrikshospitaal met ligte beserings geneem.

Tshepo Mashele, ʼn pendelaar van Mamelodi, het die stormloop op oorvol treine blameer en beweer dit is ʼn daaglikse verskynsel. Hy het gesê Donderdag se chaos is deur swak kommunikasie en onbetroubare treindienste veroorsaak. “Mense moes saamdrom en deurdruk om in die trein in te kom en moes terselfdertyd nog uitvind waarheen die trein op pad is. Die personeel by die stasie kommunikeer nie met die pendelaars nie,” het hy gesê.

Jeff Khupane, ʼn pendelaar van Atteridgeville, het gewaarsku as die treindienste nie daadwerklik verbeter word nie, ernstige ongelukke gaan gebeur. “As gevolg van die hoë petrolprys het baie mense nie ʼn ander keuse as om van die onbetroubare treindienste gebruik te maak nie,” het hy gesê.

Metrorail-personeel by die stasie het geweier om met die media te praat. Hulle het die media na hul bemarkingsafdeling verwys, maar niemand by dié afdeling was vir kommentaar beskikbaar nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.