17-jarige wie se hande verwyder is ná haar moord, sou vandag verjaar

Anika Smit. Foto: Facebook

Die 17-jarige Anika Smit, wat twee jaar gelede wreed in Pretoria vermoor is, sou vandag 19 jaar oud geword het. Hoewel haar verjaardag vandag herdenk word, is haar moordenaar egter nog op vrye voet.

Anika, ʼn voormalige leerling aan Hoërskool Gerrit Maritz, is op 10 Maart 2010 by haar ouerhuis in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Haar pa, Johan, het op haar geskende liggaam afgekom. Sy het ook verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad.

Johan het destyds aan die media gesê sy het die dag by die huis gebly omdat sy oorontsteking gehad het. Hy het deur die dag gebel maar daar was geen antwoord nie en hy het gedink sy slaap. Hy vermoed sy het die persoon geken, want sy het die honde toegemaak en die persoon in die huis ingelaat. Hy vermoed ook dat Anika die persoon op ʼn sosiale netwerk ontmoet het.

Nico Venter, haar eks-kêrel, is sowat twee maande ná haar dood vir haar moord in hegtenis geneem. Die aanklagte teen hom is egter ’n paar maande later teruggetrek. Hy het toe as ʼn veiligheidswag by ʼn casino gewerk.

Kaptein Mike van Aardt, die saak se ondersoekbeampte, het Woensdag aan Maroela Media gesê hoewel haar moordenaar nog nie vasgetrek is nie, bly die saak een van die polisie se hoë prioriteite. “Baie water moet nog in die see loop voor ons die saak sal toemaak. Daar is ook nog baie leidrade om op te volg, maar dit vat ongelukkig tyd,” het hy gesê.

Volgens Van Aardt is ʼn profiel van die moordenaar opgestel, maar was daar sedert dié voorval geen soortgelyke moorde of voorvalle wat met Anika se moord verbind kon word nie. “Ons het nog nie ʼn definitiewe verdagte nie, die persoon wat die daad gepleeg het, is beslis intelligent en krimineel gesofistikeerd. Hy het geweet hoe om sy spore toe te vee.”

Hy sê ook die kans is goed dat sy die persoon geken het, hoewel sy nie noodwendig die persoon góéd geken het nie.

Van Aardt vra dat enigiemand wat inligting oor die saak het, by 082  575 1808 met hom in verbinding sal tree. Hy sê alle inligting sal vertroulik hanteer word en die persone se identiteite sal nie bekend gemaak word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda Jacobs ·

Dis nog steeds hartseer verseker vir haar Familie!

Dis so barbaars gewees….wie sou dan nie ñ wrok dra daarna nie!

My gebede is by die familie en vrinne…xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.