18 sterf in gru-botsing op N4

Agtien mense, insluitend ʼn baba, is Donderdagoggend dood nadat die minibus waarin hulle gery het teen ʼn vragmotor gebots het buite Belfast in Mpumalanga.

ʼn Woordvoerder van die veiligheidsdepartement, Joseph Mabuza, sê die minibus het uitgebrand en die lyke is onherkenbaar verkool. Die minibus het omstreeks 4:00 vanoggend op die N4 in die aankomende verkeer se baan beland en reg van voor teen die vragmotor gebots. Toe paramedici op die toneel kom het hulle drie lyke langs die pad gevind. Die liggame van die ander oorledenes moes uit die minibus verwyder word. Die bestuurder van die vragmotor is ook in die ongeluk dood. Die minibus was op pad van Mosambiek na Johannesburg terwyl die vragmotor van Johannesburg na Nelspruit op pad was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.