19 sterf ná bus van brug af ry

Foto's: ER24

Altesaam 19 mense is dood en 52 beseer toe ‘n bus Maandagoggend van ‘n brug op die R95-pad af gery en in ‘n stormwatersloot beland het.

Volgens Jeffrey Wicks, ʼn woordvoerder van Netcare911, het die ongeluk naby Meyerton, Gauteng, plaasgevind. Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie. Na wat verneem word, het die Putco-busbestuurder beheer oor die voertuig verloor. Die bus het die pad verlaat, deur die brug se reëling gebars, en 5 meter verder in ʼn stormwatersloot op sy kant tot stilstand gekom. Verskeie noodreddingspanne is na die toneel ontbied om na die beseerdes om te sien.

Volgens Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, was daar 71 passasiers en het dit omtrent vyf ure geneem om die pasiënte op die toneel te behandel en na nabygeleë hospitale te neem vir verdere behandeling. Drie van die pasiënte is in ʼn kritieke toestand en twee van hulle moes per helikopter vervoer word.

Jackson het gesê dit was ʼn moeilike toneel vir nooddienswerkers. Die bus het op verskeie passasiers gelê en boonop het die dik modder in die sloot reddingspogings bemoeilik.

“Die bus is later uit die sloot gelig waarna polisieduikers deur die modder gewerk het om seker te maak dat daar nie nog liggame is nie. Vyf liggame is só ontdek. Dit was slegs deur spanwerk en uithouvermoë dat nooddienswerkers dit reggekry het om 52 lewens te red,” het Jackson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.