1Mil-hospitaal moet opskerp

1 Militêre Hospitaal. Foto. mpro.co.za

1 Militêre Hospitaal. Foto. mpro.co.za

Pasiënte in die meeste sale van 1 Militêre Hospitaal in Pretoria moet hul selfone gebruik om verpleegsters te ontbied wanneer hulle hulp nodig het, het Beeld Dinsdag berig.

Die noodroepstelsel vir pasiënte is ná twee jaar steeds buite werking, het die dagblad berig. Die hospitaal het pas sy tweede ultimatum vanjaar van die Tshwane-metro se nooddienste ontvang om te sorg dat dié stelsel, en die brandwaarskuwingstelsel, reggemaak word. Die sperdatum is 28 Oktober.

ʼn Paar jaar gelede moes die hospitaal vir ’n ruk lank gesluit word weens gebreke aan sy brandveiligheidstelsel, en dit kan weer gebeur as daar nie by die sperdatum gehou word nie.

’n Vorige sperdatum is bepaal om tekortkominge aan die hospitaal se opknappingswerk, ter waarde van R56 miljoen, aan te spreek. Die gebreke was glo die gevolg van ’n geskil tussen die departement van openbare werke (DOW) en ’n kontrakteur wat vir die stelsel se installasie verantwoordelik was.

Die DOW en die weermag is saam verantwoordelik daarvoor om die gebreke reg te stel.

Selby Bokaba, ʼn woordvoerder van die Tshwane-metro, het gesê die DOW het reeds ’n brandkonsultant aangestel, wat ’n behoorlike brandplan vir die hospitaal opgestel het.

Tydens ʼn opvolg-inspeksie is die probleme met die noodroepstelsel weer uitgelig.

Die SA Militêre Gesondheidsdiens het vroeër gesê hy probeer om die probleme op te los.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jasper ·

Vroëerjare het D.O.W. hule eie instandhoudingswerke met opgeleide mense gedoen. Nou word tenders links en regs aan kontrakte uitgedeel.
Zuma kan niks meer aan hierdie land se saligheid doen nie, hy bekommer hom net oor stemme.
My voorspelling is dat hierdie Soustrein eendag deur radikales ge-“high jack” gaan word, of hy”gaat over het afgrond na benede donderen”

Oupa Teddie ·

Wat vir my verstommend is, is dat 2 Mil in Wynberg (Kaap) funksioneer op die oog af baie goed. Waarom is dit dat sekere dele (eenhede) van die SANW reg funksioneer en ander nie. Het dit met die bevoegdhede van die bevelvoerders te make dalk?
Wat my verder opval is dat al die plekke waar DOW betrokke is pateties is. Ek wonder wie van die algemene publiek het al vrae gevra oor hoe dit op sekere van die eiland rondom die SA kus lyk tov die infrastruktuur.
Wat my verder pla is dat daar ‘n groot menigte bevoegde militêre veterane reg staan om hierdie tipe werk te doen en ten minste weer ‘n lewe te kan maak. Waarom nie van hulle gebruik maak nie.

Dit kan dalk net goedkoper wees as om alewig van duur kontrakteurs gebruik te maak.
Wonder maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.