1time amptelik onder likwidasie geplaas

Die laekostelugredery 1time is Dinsdag amptelik onder voorlopige likwidasie geplaas in die hooggeregshof in Pretoria.

Refilwe Masemola, ʼn woordvoerder vir 1time, kon nie besonderhede verskaf rakende die likwidasie-proses nie aangesien ʼn likwidateur aangestel sal word en verdere kommunikasie oor die proses sal hanteer. 1time het Vrydag aangekondig dat hy om likwidasie sal aansoek doen waarna alle vlugte onmiddellik gestaak is. Die vakbond Solidariteit het vandag aangekondig dat nagenoeg 100 werknemers by Jetworx, 1time Holdings se bedryfsfiliaal en instandhoudingsvleuel, ook moontlike aflegging in die gesig staar weens 1time se probleme. Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê die vakbond is hoopvol dat 1time steeds verkoop kan word terwyl dit onder voorlopige likwidasie is. “Indien ’n koper vir 1time gevind kan word, kan die laekostelugredery se nagenoeg 540 werknemers moontlik hul werk terugkry. Jetworx sal dan weer 1time se instandhouding kan doen en weer werknemers in diens kan neem. Solidariteit doen ’n beroep op Suid-Afrikaanse lugvaartmaatskappye om ter wille van plaaslike werkskepping hulle instandhouding plaaslik deur maatskappye soos Jetworx te laat doen in plaas daarvan om dit na die buiteland uit te bestee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.