
Die 1Time-vliegtuig is op 31 Oktober 2010 inderhaas ontruim na rook by die vliegtuig se enjin uitgekom het.
Die passasiervliegtuig van die lugredery 1Time wat Sondagaand ʼn noodlanding by die King Shaka internasionale lughawe in Durban moes uitvoer, het glo enjinprobleme gehad.
Die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid het Maandag gesê ʼn voorlopige ondersoek toon dat die vliegtuig se linkerenjin probleme gegee het. Die vliegtuig, wat onderweg was na Kaapstad, moes kort ná dit opgestyg het, terugdraai.
Colin Naidoo, ʼn woordvoerder van die lugvaarowerheid, het gesê die aanloopbaan by die lughawe was van 17:00 tot 20:00 gesluit vir die noodlanding. Dit het ʼn vertraging van drie ure veroorsaak.
Die ondersoek duur voort.