2 mense dood ná Putco-bus hul huis platry

Die Putco-bus wat in die huis vasgejaag het. Slegs die badkamer en 'n gedeelte van die voorste muur het staande gebly. Foto: Chris Collingridge, Independent Newspapers

ʼn Paartjie van Soweto is vroeg Dinsdagoggend in hul HOP-huis dood nadat ʼn bus die struktuur platgery het, het Johannesburgse nooddienste gesê.

Die bestuurder het beheer oor die bus verloor en met ʼn motor gebots voordat dit in die huis in Braamfischer x2, Dobsonville, vasgery het, het woordvoerder Synock Matobako gesê. “Dit het in die huis vasgery en dit platgery. Die paartjie, Michael Motswiri (44) en sy vrou, Mathabiso (33), wat in die huis geslaap het, is dood.” Ses-en-dertig mense is beseer, waarvan vier ernstige beserings opgedoen het. Hulle is na die onderskeie hospitale in die omgewing geneem.

Obed Sibasa, woordvoerder vir die verkeersdepartement in Gauteng het gesê die bus het teen so ʼn hoë spoed gery dat die merke in die pad waar die bus gegly het oor meer as 50 meter van die stopstraat tot by die huis strek.

Raphiri Matsaneng, woordvoerder van Putco Bpk. het gesê die maatskappy was ontsteld om van die voorval te hore te kom en die oorsaak is nog nie bevestig nie. “Ons sal slegs die oorsaak van die ongeluk weet nadat die polisie hul ondersoek afgehandel het.” Sommige van die beseerdes is deur die loop van die dag reeds uit die hospitaal ontslaan, maar die busbestuurder is een van dié wat onder mediese toesig moet bly. Matsaneng het Putco se ondersteuning vir die gesin van die paartjie wat in die ongeluk dood is, beloof. “Ons wil graag ons innige simpatie met die familie betoon en hoop dat diegene wat in die hospitaal opgeneem is, ʼn spoedige herstel sal toon,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.