2 “rowers” gevang ná ongeluk

Twee vermeende rowers is Dinsdag in Mowbray, Kaapstad, vasgetrek ná hulle in ‘n botsing met hul voertuig betrokke was.

Die gewapende mans het Dinsdagoggend omstreeks 11:50 die Java-salon in Mainweg, Mowbray betree op voorwendsel dat hulle klante is, berig kaptein FC van Wyk, woordvoerder van die polisie. Een was met ‘n mes en die ander met ‘n vuurwapen bewapen. Hulle het die salonbestuurder met die vuurwapen aangehou en haar gedwing om geld aan hulle te oorhandig.

Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag geld en twee selfone in hul Toyota Tazz gevlug. Die polisie is onmiddellik in kennis gestel.

Gedurende die jaagtog het die verdagtes in ‘n privaatvoertuig in Woodstock vasgejaag. Hulle het uit hul voertuig gespring en in verskillende rigtings begin hardloop. In samewerking met die sekuriteitsbeamptes van die Grootte Schuur GVD (gemeenskapsverbeteringsdistrik), kon die polisie beide verdagtes vastrek.

Die verdagtes se voertuig is deursoek en die polisie het beslag gelê op die kontant en selfone. Geen wapens is in hul besit gevind nie. Die polisie vermoed die verdagtes het van die wapens ontslae geraak sodra hulle te voet begin vlug het.

Die verdagtes is onderskeidelik 25 en 30 jaar oud en sal Donderdag in die landdroshof in Wynberg verskyn.

Tydens die jaagtog was twee polisievoertuie van SAPD Mowbray ook in ‘n botsing betrokke en vier polisiebeamptes is beseer. Die beseerdes is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Hul toestand is stabiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.