Twee verdagtes is Woensdag in Florida, Johannesburg, aangekeer na hulle glo ʼn huis in Weltevredenpark beroof het.
Volgens lt.kol. Katlego Mogale, ʼn polisiewoordvoerder, is die verdagtes onderskeidelik 20 en 22 jaar oud. Sy het aan Maroela Media gesê die twee mans het glo vroeër vandag by die huis ingebreek terwyl niemand tuis was nie. Hulle het ʼn plasmaskerm-televisie gesteel en daarna in ʼn taxi gevlug. ʼn Sekuriteitsbeampte het intussen opgedaag, die taxi agternagesit en die polisie ontbied. Die twee verdagtes het op die hoek van Golf Club Terrace en Ontdekkersweg uit die taxi geklim en te voet verder gevlug. Die polisie het kort daarna een man met die gesteelde televisie vasgetrek en later die ander man in ʼn oop veld.
Intussen het gerugte versprei dat nog ʼn man omstreeks 13:00 by die Florida-brandweerstasie ná ‘n mislukte kaping vasgetrek is. ʼn Nooddiensbeampte het gesê die verdagte het ‘n motor probeer kaap en daarna glo na die brandweerstasie gehardloop. Die beampte het daarna glo “net skote gehoor”. Mogale het egter gesê sy is nie bewus van so ʼn voorval nie en dat daar geen skote tydens die eerste voorval gevuur is nie.