2 vas ná moord op boer

Die polisie het twee mans aangekeer in verband met die moord op Gert Uys. Uys (55) is Dinsdag op sy plaas naby Vryheid vermoor.

Kaptein Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder, sê Uys was Dinsdag omstreeks 12:30 op sy plaas naby Swart-Mfolozi oorval terwyl hy met die plaaswerkers se lone besig was.

“Twee verdagtes het hom geskiet en sowat R18 000 gesteel,” het Zwane gesê. “Hulle het glo ook sy pistool gevat en met sy Toyota Land Cruiser gevlug. Dié voertuig is later die dag naby Swart-Mfolozi op ʼn grondpad gekry,” het Zwane gesê.

Die georganiseerde misdaadeenheid in Richardsbaai ondersoek ʼn saak van moord en huisroof.

Die eenheid het Woensdagaand twee mans, onderskeidelik 28 en 43 jaar oud, in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle het glo in Mpumalanga weggekruip. “Twee vuurwapens is in hul besit gevind en gaan vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit tydens die moord gebruik is,” het Zwane bygevoeg.

Die twee verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Vryheid verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.