20 polisielede van “moordbende” gevang

Twintig polisiebeamptes wat aan ongeruimdhede by die Kwazulu-Natalse Cato Manor-eenheid verbind word, is Woensdag tydens verskeie klopjagte in hegtenis geneem.

Die inhegtenisnemings volg op ʼn gesamentlike ondersoek van die Valke en die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) wat bevind het dat die lede glo soos ʼn “moordbende” opgetree het. Bewerings het verlede jaar in November versprei dat sommige beamptes van dié eenheid oor ʼn geruime tydperk altesaam glo 51 verdagtes onregmatig doodgeskiet het.

Dié ernstige aantygings het gevolg gehad dat lt.genl. Anwa Dramat, nasionale hoof van die Valke, ʼn spesialisspan saamgestel het om die bewerings te ondersoek. ʼn Grootskaalse interne ondersoek is kort daarna van stapel gestuur. In Maart het Nhlanhla Mkhwanazi, destydse waarnemende polisiehoof, gevra dat die Valke die ondersoek lei. Hulle het toe nou saam die OKD gewerk.

Die Valke en OKD het die beamptes vandag, met behulp van die misdaadintelligensie-eenheid en taakmag, in hegtenis geneem. Nagenoeg 60 speurders het saamgewerk om die beamptes aan te keer en het op bewysstukke in persele in Durban en ʼn huis aan die Wes-Rand, beslag gelê. Twee beamptes is ook in Hammanskraal, naby Pretoria, aangekeer.

Die verdagtes word onder andere van aanranding, diefstal, moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla. Hulle sal na verwagting Donderdag in die Durbanse landdroshof verskyn. Die polisie het laat weet dat meer inhegtenisnemings verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.