2012 se nuushoogtepunte, deel 1

 

Johan Kotze Foto: thenewage.co.za

Historici sal eendag in hul ontleding van watter  nuusgebeure in Suid-Afrika in 2012 die land se geskiedenis die meeste beïnvloed het, terugkyk en oordeel dat veral twee sake uitstaan – die Marikanaslagting en die herverkiesing van pres. Jacob Zuma as president van die ANC.

Nie alles het egter negatiewe implikasies nie, soos blyk daaruit hoe ‘n land meegevoer kon word deur die geslaagde veloorplanting wat klein Pippie Kruger ondergaan het. Die dapper kleinding se vegtersbeurt van verskeie hartstilstande en ander operasies is deur Maroela gevolg. Op die krieketveld het Suid-Afrika die nommer een toetsland geword deur Engeland op Britse bodem af te ransel, en die titel suksesvol verdedig deur Australië Doer Onder die kous oor die kop te trek.

Hier volg van die belangrikste gebeurtenisse, en vroeg volgende jaar word na nog sake gekyk en finale syfers, soos vir die renosterslagting, opgedateer. 

Geleentheid verpas

2012 sal ook onthou word as die jaar waarin geleenthede verpas is. Om die vlakke van polarisasie aan te preek is die Kliptown-beraad gehou, maar die regering het in die ontwerp daarvan en keuse van sprekers gesorg dat dit eerder polarisasie verdiep het. Die laagtepunt van die beraad was waarskynlik die deelname van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wat ‘n “oplossing” lynreg in stryd met die internasionale reg voorgestel het en minderhede net verder vervreemd gelaat het. Enkele dae later het sy in die konteks van haar rol as nuutverkose hoof van die Afrikakommissie presies die teenoorgestelde standpunt ingeneem. Verskeie deelnemers wat die beraad as mislukking beskryf het, het gemeld dat hulle bemoedig was deur die positiewe gesindheid wat hulle by gewone deelnemers ervaar het.

Marikana

Die skietery by Marikana het gekom te midde van ernstige verwikkelinge in veral die mynbedryf. Gevestigde loononderhandelingstrukture is ernstig onder druk geplaas, en ‘n vakbond wat nie deel van Cosatu is nie. AMCU, het Cosatu se NUM se dominerende posisie in veral die platinumsektor ernstig begin uitdaag. Die ANC-regering se reaksie was om AMCU min of meer te ignoreer, en die minister van Minerale het selfs kluitjies gebak, wat in die Mrikana-skietery liederlik geboemerang het. Hoewel die kommissie van ondersoek nog nie afgehandel is nie, lyk dit of die hantering van die aanloop tot die afloop as teksboekvoorbeeld sal dien van hoe sake nié hanteer moet word nie. Die skietery self is wêreldwyd met Sharpeville vergelyk, en die aanvanklike besluit van die Nasionale Vervolgingsgesag om die stakers wat gevang is weens moord weens kollektiewe oogmerk aan te kla, was ‘n diplomatieke ramp. Die regering is na aanleiding van Mary Robinson en Hillary Clintion se toesprake in SA aan Harold MacMillan se “winde van verandering” -toespraak herinner.

Zuma se herverkiesing

Suid-Afrika se beeld dat dit uit pas is met die wêreld is, is ernstig verder vertroebel toe pres. Jacob Zuma tydens die ANC se Mangaung-kongres in Bloemfontein as “onverkiesbare” leier tot president van die liggaam oorweldigend herverkies is. Uit die reaksie van die buitelandse media is dit duidelik dat die land se beeld ernstig geknou is. Daar is net geen begrip oor hoe dit in vandag se wêreld moontlik is dat iemand wat so in ‘n wolk leef van omstredenheid, so oorweldigend herkies kan word nie. Dit is veral op die wêreldtoneel onderstreep deurdat dit kort na die Amerikaanse presidentsverkiesing gevolg het, ‘n verkiesing waar die wêreld deur meningspeilings kon volg hoe net ‘n paar woordjies uit plek ‘n presidentskandidaat se kanse knou. In die oë van die wêreld moes enigeen van die onthullings oor Zuma se sake hom in die politieke woestyn ingeslinger het. Ook die feit dat Suid-Afrika onder Zuma se bewind op ‘n spektrum indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks, die persvryheidsindeks, die vredesindeks en die indeks vir mislukte state agteruit geboer het, moes Zuma onverkiesbaar gemaak het. Selfs die omstredenheid oor ‘n skildery wat die president se lewenstyl beklemtoon het, het sy kanse skynbaar versterk eerder as verswak. Die ANC was juis ontstoke toe ‘n groep vername kerkleiers die ANC aangespreek het oor moraliteit.

Zuma se herverkiesing plaas onrealistiese hoë verwagtinge op Cyril Ramaphosa wat as ANC-adjunk-president verkies is.

By dieselfde kongres is die ANC behoorlik as swart party, eerder as nie-rassige party bevestig. Slegs Jesse Duarte kon die uitverkore top behaal, en onder die ander 80 NUK-lede is net sewe (drie wit, twee bruin en twee Indiër) nie etnies swart  nie. Al is dit ook hóé politiek verkeerd om dit te sê, is dit ‘n manifestasie van die vervreemding van minderhede. Dit is deels veroorsaak deurdat meer bekende ANC-;ede soos Trevor manuel en Jeremy Cronin nie beskikbaar was nie, maar die nie-swart lede wat verkies is, is kwalik swaargewigte. Een van dié wat wél die paal gehaal het, Tinma Joemat-Pettersson, is deur Solidariteit as die swakste hoof  aangewys is.

Hofsake

Twee hofsake wat intensief gevolg word, is dié van die sogenaamde Modimolle-monster asook die saak oor die moord op Chanelle Henning. Daar was egter ander sake wat in sekere opsigte belangriker was. Die skikking buite die hof wat Afriforum en die TLU-SA met die ANC bereik het, en wat ‘n bevel van die appèlhof gemaak is, plaas tegnies die hele kwessie van haatspraak op ‘n duideliker regsfondament. Hierdeur is die omstrede Skiet die Boer-liedjie in effek met die ANC se goedkeuring in die ban gedoen. Die ANC het hom daardeur, wat dit betref, uiteindelik ook van Julius Malema.

gedistansieer.

Die afloop van die Simelane-sage sal die opposisiepartye se kokers met pyle vul om die president se optrede grondwetlik-verantwoordbaar te hou. Die IVP se saak waardeur die ANC se parlementêre diktatuur oor die keuring van wetgewing ongrondwetlik verklaar is, bestendig ook grondwetlike demokrasie. Die staat se onteiening van mineraleregte is egter nog onderweg grondwetlike hof toe. Ook die e-tolsage sal nog verder in die howe besleg word nadat Outa besluit het om te appelleer.

Oproer anderkant die wyngordyn

Dit lyk onafwendbaar dat die Wes-Kaapse plaasarbeidsonrus nie net nog op die spits gedryf gaan word nie, maar deur Cosatu-aanhitsing landswyd kan versprei. Daar is egter ‘n lang geskiedenis van gemeenskapspersepsies wat uniek aan die Wes-Kaap is en dit tot dié area kan beperk. Die kwessie kan ‘n groot uitdaging vir die DA in die provinsie word, wat gemeenskappe met wyd-uiteenlopende persepsies oor die kwessie verteenwoordig. Cosatu sal dit ongetwyfeld uitbuit.

Renosters

Nog voor die einde van die jaar is reeds meer as 633 renosters gestroop, ‘n nuwe rekord ten spyte van verskerpte pogings om die wreedheid te bekamp.

Reik na die sterre – SKA

Suid-Afrika het ‘n groot deel van die bod om die SKA-projek aan te bied, gekry. Dit sal Suid-Afrika se aandeel in die wêreld se voorste astronomiekringe verhoog, maar ook heelwat vir die land se ekonomiese ontwikkeling beteken.

Die wêreld het egter talle ander ruimteprestasies beleef, waaronder die jongste Marssending, waar die ontdekking van ‘n prehistioriese waterlopie die opspraakwekkendste is. China en Japan het hul ruimteprogramme ‘n hupstoot gegee, maar die wêreld is bekommerd nadat Noord-Korea daarin kon slaag om ‘n voorwerp in die ruimte te plaas. Hoewel die voorwerp, moontlik ‘n satelliet, klaarblyklik sommer met die plasing in ‘n wentelbaan onklaar geraak het, beteken dit dat Noord-Korea nou so te sê klaar oor die vermoë beskik om missiele tienduisend kilometer ver te lanseer, en die VSA te tref. Japan, oor wie se grondgebied die missiele gelanseer sal moet word, dreig om sulke vuurpyle af te skiet.

Die Amerikaanse USGS het pas nostalgies aangekondig dat Landsat 5, wat bekend geword het as die satelliet wat alles gesien het, na byna 30 jaar   uit diens gestel word. Sy bedoelde lewensverwagting was 3 jaar. 

Argeologie

Suid-Afrika het verskeie kere weens argeologiese ontdekkings in 2012 die nuus gehaal. ‘n Bevinding vanjaar, dat ‘n stokkie van 24 000 jaar oud gebruik is om gif aan pylpunte te smeer, het egter aan Suid-Afrika een van tien plekke onder die vaktydskrif, Archaeology, se top tien ontdekkings vir 2012 laat haal. ‘n Ander bevinding wat vanjaar die aandag getrek het, was dat die oudste bewyse vir die gaar maak van kos, twee miljoen jaar gelede, by die Wonderwerkgrot gevind is.

Meer oor Suid-Afrika se argeologiese prestasies vir 2012 kan hier gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.