21 dood, 62 vermis ná grondverskuiwing

Foto: theborneopost.com

Reddingswerkers het op 21 lyke afgekom ná meer as 80 mynwerkers in ‘n reuse grondverskuiwing in Tibet vasgevang is.

Nog 62 myners word onder die twee miljoen kubieke meter grond oos van die Tibetaanse hoofstad Lhasa vermis, het China National Radio Maandag berig. Sowat 3 500 nooddienswerkers trotseer die sneeu en hoogtesiekte om na die vermiste myners te soek.

Sommige reddingswerkers grou met hul kaal hande om te verhoed dat hulle liggame beseer, aangesien die ramp paaie versper het wat grootskaalse reddingstoerusting kan aflewer. Twee liggame is Saterdag opgespoor en die res Sondag, en die soektog sal voortduur “solank as wat daar 1% kans is” om die liggame op te spoor, het een van die reddingswerkers aan die stasie gesê.

Kundiges van die ministerie van grond en hulpbronne het in die gebied aangekom om die oorsaak van die grondverskuiwing te bepaal. Bergstreke in Tibet word gereeld deur soortgelyke gebeurtenisse geteister, en dit word vererger deur mynaktiwiteit. Die risiko van verdere grondverskuiwing het kommer oor veiligheid verhoog.

Sjina het die afgelope paar jaar geweldige minerale hulpbronne in Tibet ontdek, insluitend miljoene ton koper, lood en sink en miljarde ton ystererts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.