22 sterf toe bus bo-op stasiewa beland

Foto: Bullit Marquez/Associated Press

Foto: Bullit Marquez/Associated Press

Altesaam 22 mense is Maandag dood toe ʼn passasiersbus van ʼn verhoogde snelweg bo-op ʼn stasiewa in Manila, Filippyne, beland het.

“Twintig van die slagoffers was aan boord en twee het in die stasiewa gereis,” het Jose Abuyog, verkeersinspekteur, aan AFP gesê. “Die dodetal kan dalk nog styg, aangesien van die beseerdes in ʼn ernstige toestand is.”

Die oorsaak van die ongeluk moet nog bepaal word.

ʼn Verdere 20 mense is in die ongeluk beseer.

Die bus het ses meter ver van die snelweg af bo-op die stasiewa geval. Die busbestuurder, wat die ongeluk oorleef het, sal ondervra word en sal ook toetse moet ondergaan.

Don Mariano Transit, die busmaatskappy, se dienste is vir 30 dae opgeskort terwyl sy ander voertuie deursoek word, het Winston Ginez, voorsitter van die landvervoerreguleringsraad, aan ABS-CBN-televisie gesê.

Drie mense is dood en vier beseer toe ʼn bus in 2011 van dieselfde verhoogde snelweg af geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.