23 sterf tydens inisiasieseremonies

Argieffoto (Foto: Dingeman, Wikimedia Commons)

Drie-en-twintig jeugdiges het glo oor die afgelope nege dae tydens inisiasieseremonies, wat besnydings en oorlewingstoetse insluit, gesterf.

“Die polisie ondersoek 22 sake van moord in Mpumalanga,” het lt.kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in die provinsie, gesê. Hy sê ‘n geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur vir die afsterwe van die 23ste jeugdige, wat oor maagkrampe gekla en vomeer het.

Inisiasieseremonies is algemeen in Suid-Afrika, waar jeugdiges aan verskeie aktwiteite as inisiasie tot volwassenheid deelneem. Dié seremonies duur gewoonlik sowat drie weke. Sowat 30 000 jeugdiges is vanjaar ingeskryf vir inisiasieseremonies.

Seuns en jong mans word besny, en moet ook ‘n reeks oorlewingstoetse ondergaan insluitend die blootstelling aan koue winterstoestande met min klere. Hul gesigte word met rooi verf gesmeer en hulle moet glo ook kruie-konkoksies drink.

Volgens Hlathi het al die jeugdiges by inisiasieskole, wat by die regering geregistreer is, gesterf. Mediese praktisyns is gewoonlik tydens die seremonies teenwoordig. Die regering het betrokke geraak om onnodige sterftes te verhoed.

Die vermoedelike oorsaak van die sterftes word nie vrygestel nie, in afwagting op uitslae van nadoodse ondersoeke. Meeste sterftes in die verlede is aan infeksie en bloedverlies ná besnyding toegeskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.