3 vas ná hulle glo lugvaartwet oortree by ANC se eeufees

Twee mans en ʼn seun is naby Bloemfontein in hegtenis geneem na hulle glo lugvaartwette oortree het, het die polisie Sondag gesê.

ʼn 45-jarige man en sy 14-jarige seun tesame met hul 22-jarige vriend is Saterdagaand in hegtenis geneem nadat hulle met ʼn groen laserstraal na helikopters gewys het wat onderskeidelik van Bloemfontein-lughawe en Bloemfontein-lugmagbasis opgestyg het. Die mans se inhegtenisname kom ná waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.gen. Nhlanhla Mkhwanazi Donderdag Bloemfontein as ʼn geen-vlieg-sone verklaar het en gesê het dat die lugruim in die gebied dopgehou sal word gedurende die ANC se eeufeesvieringe oor die naweek. “Geen vliegtuie sal toegelaat word om in die Vrystaat-stadion te kom neerstort waar die ANC se eeufeesvieringe vir ʼn groot groep mense Sondag plaasvind nie,” het Mkhwanazi gesê. Polisie sê die drie sal aangekla word dat hulle artikel 133 van die Wet op Burgerlike Lugvaart oortree het. “Die wys van laserstrale word as ʼn ernstige oortreding beskou aangesien dit die vlieëniers kan verblind en van koers kan bring wat daartoe kan lei dat ʼn vliegtuig neerstort,” het kol. Vishnu Naidoo gesê. Luidens die Wet op Burgerlike Lugvaart is enige persoon wat opsetlik enigiets doen om ʼn vliegtuig in gevaar te stel skuldig aan ʼn oortreding. Die drie sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.