Drie vroue wie se liggame by ʼn meer in Duitsland aangetref is, het moontlik ʼn selfmoord-verdrag aangegaan.
“Daar was nie enige tekens van vuilspel nie,” het die polisie Donderdag gesê.
Die vroue, onderskeidelik 23, 44 en 49 jaar oud, het mekaar glo deur die internet ontmoet. Hulle is by ʼn kampterrein naby die dorpie Voehl in Hessen opgespoor.
Die 44-jarige is moontlik van die nabygeleë Kassel afkomstig, maar die 49-jarige is van Frankfurt. Die 23-jarige vrou is van Potsdam naby aan Berlyn.
Die polisie probeer bepaal of die vroue aan ʼn geestelike versteuring gely het. Die bestuurder van die kampterrein het Woensdagmiddag in ʼn houthut op hul liggame afgekom.
Daar was ʼn waarskuwing oor koolstofmonoksied langs die badkamerdeur. Die vroue het elk ook ʼn selfmoordbrief agtergelaat. -SAPA