30 huise oorstroom ná pyp bars

 

Sowat 30 huishoudings het Dinsdagmiddag in Pretoria se noordelike voorstede oorstroom nadat ʼn waterpyp van een van die opgaardamme gebars het. Dit het ook veroorsaak dat verskeie inwoners van die gebied sonder water sit.

Johan Pieterse, die woordvoerder van die Tshwane Metro se nooddienste, het aan Maroela Media gesê die stad se brandweer was eerste op die toneel om te sorg dat die water herlei word om verdere skade in die gebied te voorkom.

Na wat verneem word, het die pyp gebars terwyl fondasiegate vir ’n nuwe opgaardam in Annlin gegrawe is.  Dit het tot gevolg gehad dat tonne water by die opgaardam uitgestroom en na die huise gevloei het.

Die voorstede wat hierdeur geraak word, is Pretoria-Noord, Annlin en dele van Sinoville. Na wat verneem word, behoort die watertoevoer teen Woensdagmiddag volledig herstel te wees.

Dikeledi Phiri, ʼn woordvoerder van die Tshwane-metro, het aan Maroela Media gesê werkers het regdeur die aand gewerk om die pyp te herstel. Watertenks is na die volgende punte in die gebied versprei:

  • Wongar-vulstasie, op die hoek van Braam Pretoriusweg en Kaneelbasstraat;
  • Die vulstasie in Annlin Plaza, op die hoek van Marjoramstraat en Lavenderweg;
  • Sinovich-park, op die hoek van Anastasia- en Matlabasstraat;
  • Jopie Fourie-park, op die hoek van Jopie Fourie- en Wonderboomstraat;
  • Vader Kestell-park, op die hoek van Emily Hobhouse- en Britsstraat; en
  • Van Riebeeck-park, op die hoek van Gerrit Maritz- en Genl Beyersstraat.

Phiri sê die tenks sal beskikbaar wees totdat watertoevoer in die gebied herstel is. Sy het ‘n beroep gedoen op inwoners in die betrokke gebied om hul eie houers na die tenks te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.