33 bekendes vat hande teen geweld

Bobby en Karlien van Jaarsveld. Foto: Phillip Bruwer

Drie-en-dertig bekendes neem vandag deel aan ’n staptog na die Uniegebou om regeringsingryping teen geweldsmisdaad in Suid-Afrika te eis.

Die staptog word deur die kunstenaars Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld en Steve Hofmeyr gelei. Hierdie inisiatief is geneem in reaksie op die gru-moorde van die 5-maande-oue Wiehan Botes en sy oppasser, Margrietha de Goede (66) in Delmas verlede maand. Volgens Bobby van Jaarsveld reis kunstenaars dwarsoor Suid-Afrika en hoor weekliks hoe mense hulle geliefdes aan die dood afgestaan het tydens inbrake, motorkapings en gewapende rooftogte. Ander was weer slagoffers van ander geweldsmisdade soos verkragting en aanranding. Volgens AfriForum se hoof van gemeenskapsake, Cornelius Jansen van Rensburg, rou Suid-Afrika oor elke persoon wat geraak word deur geweldsmisdaad. “Ons gaan hierdie boodskap aan die president oordra en eis dat die regering daadwerklik teen geweldsmisdaad optree,” het Jansen van Rensburg gesê.

Die staptog se besonderhede is soos volg:

Datum: Dinsdag, 19 Junie 2012
Plek: Vanaf die Pretoria Kunsmuseum in Wessels straat, Arcadia tot by die Uniegebou
Tyd: 10:00 – 12:00

Alle Suid-Afrikaners word uitgenooi om saam te stap teen geweldsmisdaad. Deelnemers sal SWART KLERE dra met ‘n WIT serpie / “bandana” / hoed. Die swart klere simboliseer dat Suid-Afrikaners rou oor elke persoon wat vermoor is of deur geweldsmisdaad geraak is, terwyl die wit simboliseer dat daar in vrede vir vrede gestap word. ’n Memorandum sal aan die presidensie oorhandig word.

Mense kan ook die webwerf, www.stapteengeweld.co.za, besoek vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.