Nagenoeg 330 miljoen aborsies is die afgelope 40 jaar in Sjina uitgevoer.
Volgens data wat vroeër die jaar op die departement van gesondheid se webwerf publiseer is, is 328.9 miljoen aborsies tussen 1971 en 2010 in Sjina uitgevoer. Dié land het in 1971 sy burgers aangemoedig om minder kinders te hê. Daar bly tans sowat 1.35 miljard mense in die land.
Sjina sê sy eenkind-beleid wat vroeg in die 1980s ingestel is, het oorbevolking verhoed en ekonomiese ontwikkeling teweeggebring. Plattelandse gesinne, etniese minderhede en paartjies wat beide enigste kinders is, is van dié beleid vrygestel.
Daar word toenemend ‘n beroep op die regering gedoen om dié beperking uit te faseer, aangesien die land se arbeidsmark krimp en die aantal bejaardes toeneem. Stedelike families word oor die algemeen toegelaat om net een kind te hê, terwyl families op die platteland toegelaat word om ‘n tweede kind te hê, indien die eerste een ‘n dogtertjie is.
Die regering het verlede Sondag aangekondig dat die Nasionale Bevolking- en Gesinsbeplanningskommissie en die departement van gesondheid die beleid sal verbeter, en nie sal afskaf nie. “Die sensus in 2010 het aangedui dat daar sowat 400 miljoen meer mense in Sjina sou gewees het as dit nie vir dié beleid was nie,” het Ma Kai, sekretaris-generaal in Sjina se kabinet, gesê.