Vyf en dertig mense is in twee afsonderlike minibus-ongelukke in die Vrystaat beseer, het paramedici Sondag gesê.
André Visser, woordvoerder vir ER24, het gesê die eerste ongeluk het naby Lindley plaasgevind toe ʼn taxi teen ʼn sportnutsvoertuig gebots het. “Vyftien mense het verskeie beserings insluitend skrape en kneusplekke en gebreekte bene opgedoen,” het hy gesê. Die beseerdes is op die toneel behandel en na nabygeleë mediese sentrums geneem vir verdere behandeling. Nog voordat die hospitaal bereik is, het paramedici van ʼn tweede taxi-ongeluk, ʼn paar kilometer buite Senekal, te hore gekom. “ʼn Minibustaxi het teen ʼn voertuig gebots, van die pad af gery en toe in ʼn veld omgeslaan. Twintig mense het verskeie beserings, insluitend vermoedelik rug- en nekbeserings en skrape en kneusplekke opgedoen.” Polisie ondersoek die oorsaak van die twee ongelukke.