359 verdagtes in Soweto aangekeer

Die polisie het die afgelope naweek 359 mense vir verskeie misdade in Soweto in hegtenis geneem.

Ao Kay Makhubela sê die “When Duty Calls” (Wanneer Plig Roep)-veldtog is in Augustus van stapel gestuur. Die operasie in Soweto het Vrydag begin. “Ons het mense in Lenasia-Suid, Moroka, Dobsonville, Jabulani, Naledi en Protea Glen aangekeer,” het hy gesê. Die verdagtes word onder andere van verkragting, poging tot moord, besit van ongelisensieerde vuurwapens, besit van dwelmmiddels, opsetlike eiendomsbeskadiging, gewapende roof, winkeldiefstal, bestuur onder die invloed van alkohol en die bedryf van onwettige shebeens verdink. Die polisie het by verskeie shebeens beslag gelê op alkohol ter waarde van R90 000.

“Ons het die shebeens identifiseer as plekke waar misdaad gereeld plaasvind, en daarom voer ons gereeld klopjagte uit,” het Makhubela gesê. Die verdagtes sal in Roodepoort, Protea, Lenasia en Vereeniging in die hof verskyn. Volgens Makhubela sal die veldtog tot in die feesseisoen voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.