4 sterf by inisiasieskool

Argieffoto (Foto: Dingeman, Wikimedia Commons)

Vier seuns het by ʼn ongeregistreerde inisiasieskool op Botshabelo, oos van Bloemfontein, gesterf.

Volgens die polisie in Botshabelo sukkel hulle geweldig met onwettige inisiasiepraktyke in Botshabelo en Thaba Nchu. ʼn Verdere bron van kommer is dat die seuns forseer word om inisiasieskole by te woon om glo “mans” te word. Drie seuns se liggame is tydens ʼn klopjag deur die polisie by die skool gevind en een is in ‘n hospitaal oorlede, berig Sowetan. Nog 11 jong manne wat in die Botshabelo-hospitaal behandel word, het glo gesê hulle het dae lank nie water gekry nie en slegs een keer per dag kos.

Die suster van een van die seuns wat na ʼn beweerde aanranding dood is, sê hulle was nie daarvan bewus dat hy by die skool was nie, maar sy vermoed dat hy onder groepsdruk die skool bygewoon het.

Konst. Troos Mokoale, woordvoerder van die polisie, het gesê slegs twee van die liggame is Sondag uitgeken.

“Ons het die hoof van die instelling en twee onderwysers, onderskeidelik 27 en 35 jaar oud, in hegtenis geneem ná die dood van die vier seuns. Daar word beweer dat van die seuns aangerand en gebrand is met warm ysterpype. Die seuns word glo op só manier gestraf. Die skool is vermoedelike nie geregistreer nie,” het Mokoale gesê.

Die polisie is ontbied nadat een van die seuns in die Botshabelo-hospitaal aan sy beserings beswyk het. Die polisie het ondersoek by die skool gaan instel en op drie lyke afgekom. Daar was 30 seuns in dié stadium in die skool.

Elf van hierdie seuns is na die hospitaal gehaas met ernstige beserings. Die polisie doen ‘n beroep op die ouers van vermiste seuns en seuns wat die skool tans bywoon, om dadelik met hulle in verbinding te tree.

Verlede week is Itumeleng Mojafi (17) onder verdagte omstandighede dood tydens inisiasiepraktyke in Thaba Nchu. Die familie van Mojafi beweer hulle het hom verbied om die skool by te woon, aangesien dit teen hul kultuur en beginsels indruis. Die seun het sonder toestemming die skool bygewoon.

Ruth Kuzwayo, die moeder van Mthandazo (19), wat na bewering ook weens die inisiasiepraktyke dood is, sê hy het op 22 Junie vir haar ʼn briefie gelos en haar gesmeek om hom te vergewe. Hy het haar ingelig dat hy steeds beplan om na die skool te gaan. Kuzwayo is deur die hoof in kennis gestel dat sy R1 200 skoolgeld aan hom moet oorbetaal. Sy het glo geweier en gesoebat dat haar seun huis toe gestuur moet word. “Ek weet nie hoekom my seun dood is nie, ek wil antwoorde hê,” het Kuzwayo gesê.

Die verdagtes sal na bewering Dinsdag in die hof verskyn op aanklagte van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.