400 jaar oue boom moet afgekap word

Die 400 jaar oue Indiese vyeboom, of King Bunyan, in Kowloon-park

ʼn 400 jaar oue Indiese vyeboom in Hong Kong gaan afgekap word, het owerhede Vrydag gesê.

Die boom het blykbaar ʼn swamsiekte opgedoen toe ʼn ontwikkeling in die park sy wortels van suurstof en voedingstowwe beroof het. Die boom, wat in die hartjie van die stad in Kowloon-park staan, is Hong Kong se oudste boom van sy soort.

Owerhede is bekommerd dat die boom se swamsiekte na ander bome in die park kan versprei.

ʼn Derde van die boom is in 2007 deur ʼn orkaan verwoes, maar die boom se grootte verstom steeds verbygangers. Die boom staan sowat 22m hoog en spog met ʼn kroon van sowat 27m.

“Dit is die oudste en grootste Indiese vyeboom,” het Jim Chi-yung, voorsitter van die departement van geografie aan die Universiteit van Hong Kong, gesê. Hy verduidelik dat die boom reeds tydens die Qing-dinastie bestaan het.

Owerhede het nou egter geen ander keuse as om die reuse boom in September af te kap nie.

Die boom is al in 2009 met die swamsiekte gediagnoseer en ander bome in die gebied is ook reeds deur die swamsiekte getref. Die swamsiekte is glo veroorsaak deur “onbehoorlike park-ontwerp” waar die boom se wortels in 1989 onder bykomende grond en beton begrawe is om ʼn gedeelte van die park gelyk te maak. Die boom se wortels kry dus nie meer voldoende suurstof, water of voedingstowwe nie, het Jim gesê.

“Die hele saga kon verhoed word en totaal onnodig,” het Jim bygevoeg. “Dit is ʼn baie hartseer verhaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.