41 dwergkees-hondjies van kant gemaak

Argieffoto

Die DBV van Vereeniging moes Maandag 41 dwergkees (toypom)-hondjies van kant maak nadat hulle van ʼn agterplaasteler gekonfiskeer is. Die diere was in ʼn slegte toestand en was erg verwaarloos.

Marlien Pieterse, die Vereeniging-DBV se bestuurder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê altesaam 55 honde is by die teler in Riversdale gekonfiskeer, waarvan slegs 14 gered kon word.

“Die honde moes in klein spasies in hul eie urine en ontlasting lewe. Die meerderheid van die honde het glad nie eens tande gehad nie as gevolg van swak higiëne en ʼn slegte dieet,” het Pieterse gesê. “Van die honde se pelse was so erg gekoek dat hulle nie behoorlik kon ontlas nie. Die diere is deur ʼn onafhanklike veearts ondersoek wat gesê het die situasie is blatante dieremishandeling.”

Pieterse sê die eienaar is verskeie kere besoek, opgelei en gewaarsku om die diere se omgewing reg te ruk, maar het nie ag daarop geslaan nie. Sy wou ook nie saamwerk toe die diere gekonfiskeer moes word nie en die DBV moes die Meyerton-polisie ontbied om te help.

Die eienaar gaan van dieremishandeling in terme van die dierebeskermingswet en dwarsboming van die gereg aangekla word.

Lees ook: Vrae ná DBV 41 dwergkees-hondjies moes uitsit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.