Die polisie het 45 verdagtes in hegtenis geneem nadat stakende swaarvoertuigbestuurders Donderdag amok op Johannesburgse paaie gemaak het.
Die Ekurhuleni-metropolisie het die verdagtes vir publieke geweld aangekeer.
Maroela Media het vroeër berig paaie naby die OR Tambo-lughawe moes gesluit word nadat stakers gewelddadig geraak het. Betogers het petrolbomme en klippe na verbygaande swaarvoertuie geslinger. Swaarvoertuie is ook aan die brand gesteek.
Volgens Inspekteur Kobeli Mokheseng, ʼn woordvoerder van die metropolisie, is drie mense tydens die aanvalle beseer.
Intussen het die vervoervakbond Satawu gesê hulle het afgevaardigdes na die gebied gestuur om die voorval te ondersoek.