45 vas vir openbare geweld in Fochville

Altesaam 45 mense is onderskeidelik Maandag en Dinsdag in hegtenis geneem weens openbare geweld in Fochville naby Carletonville in Noordwes.

Lt.kol. Katlego Mogale het Woensdag gesê die inhegtenisnemings is gemaak nadat inwoners aan ʼn gewelddadige diensleweringsprotes deelgeneem het.

Inwoners het strate versper met klippe en bande wat aan die brand gesteek is.

“ʼn Winkel, drankwinkel en ʼn huis wat vermoedelik aan ʼn raadslid behoort, is ook onder andere aan die brand gesteek,” het sy gesê.

ʼn Polisiebeampte wat Dinsdag op die toneel was, het aan Maroela Media gesê die inwoners het uitlanders en polisiebeamptes ook met klippe bestook.

LUR Faith Mazibuko en Maphefo Mogale Letsie, die Merafong-munisipaliteit se burgemeester, het Dinsdag vergader. Die protes het opgevlam toe die burgemeester die inwoners wou toespreek, maar die geleentheid gekanselleer is.

Die mense wat in hegtenis geneem is, moet Donderdag in die Carletonville-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willy ·

Dit is my deksel dat hulle so tekere gaan oor dienslewering en bereid is om toe te sluit te word maar kom verkiesing tyd dan stem hulle weer vir dieselfde patete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.