5-jarige al glo drie keer verkrag

Skokgolwe trek deur die land na beweringe aan die lig gekom het dat ʼn vyfjarige dogtertjie al reeds drie keer verkrag is.

Die ANC het in ʼn persverklaring gesê sulke dade is onmenslik en het dit ten sterkste veroordeel. “Kinders het die reg om te speel en in ʼn versorgende en veilige omgewing groot te word,” het Makonde Mathivha gesê.

The Star berig dit was die derde keer wat dié graad-R meisie sedert 2010 in Mmamatsha in die GaMolepo-gebied verkrag is.

Konstabel Moses Molepo, ‘n polisiewoordvoerder, het gesê die meisie se eerste verkragtingsaak is in Desember ingedien. Dié saak is na bewering tydelik teruggetrek hangende DNS-toetse en ‘n maatskaplike werker se verslag. Die meisie is in Mei vanjaar na bewering weer verkrag. In dié saak is ‘n 28-jarige man op aanklag van verkragting aangekeer.

Die kind is verlede Woensdag glo vir ‘n derde keer verkrag. ‘n Man is in hegtenis geneem en het Vrydag in die Mankweng-landdroshof verskyn.

Sy is in die laaste twee voorvalle glo verkrag terwyl sy skool toe gestap het. Die voorval in 2010 het plaasgevind toe sy in haar 13-jaaroue tannie se sorg geplaas is, terwyl haar ouers ‘n begrafnis bygewoon het.

“Ons kan nie toelaat dat sulke onmenslike dade voortgaan nie,” het Mathivha gesê. Hy het ʼn volledige ondersoek aangevra oor hoekom die vorige saak terug getrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sonja ·

Dit is vir my ongelooflik hartseer dat die klein engeltjies so lelik seer gemaak word. Hulle klein lewetjies is klaar verwoes! Ek is nou in Amerika al vir 12 jaar en my kind is soveel veiliger hier as in SA. Sal nooit terug trek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.