52 miljoen vrouewerkers sonder regte

Suid-Afrika en Brasilië kry by die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) ‘n kloppie op die skouer vir die wyse waarop vroue wat as huishulpe werk wetlike beskerming geniet. In baie lande is dit egter nie die geval nie, en huishulpe of diensmeisies word dikwels aan onmoontlike werksomstandighede blootgestel.

Sowat 92 miljoen vroue werk wêreldwyd as huiswerksters, met die Latyns-Amerika en Asië wat elk sowat 40 miljoen in diens het.  Die ILO het 2010 se syfers gebruik om sy data mee op te stel. Nie alle lande het data beskikbaar gestel nie.

Sowat 90 persent van die vroue wat nie behoorlik wetlik beskerm word nie, het geen regte hoegenaamd nie.

Volgens die ILO word 83 persent van  die 52 miljoen vroue wat sonder regte werk, aan uitbuiting en selfs seksuele misbruik onderwerp. In baie gevalle is dit omdat hulle nie die taal van die land waar hulle werk ken nie, of bloot nie weet watter regte hulle het nie.

Veral vroue wat by hul werkgewers inwoon word aan onmoontlike ure blootgestel omdat van hulle verwag word om te alle tye beskikbaar te wees. Selfs van die werkers se minderjarige kinders word soms ingespan.

Die ILO wys daarop dat van die werksters groot verantwoordelike kry soos om bejaardes te versorg, kinders op te pas en ook na gestremdes in die huishouding om te sien. ‘n Sri Lankaanse diensmeisie wat in Saoedi-Arabië gewerk het, is weens moord onthoof na ‘n kind van die werkgewers dood is. Die meisie het enduit volgehou dit was ‘n ongeluk en menseregte-organisasies sê die kind het verstik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.