ʼn 35-jarige man is in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat hy ʼn sesjarige dogtertjie verkrag het. Die kind se ma het haar glo alleen by die huis gelos om te gaan drink.
Adjudant-offisier Matthews Melani, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die man is in Steytlerville in hegtenis geneem.
“Die kind se ma het haar glo alleen by die huis gelos om by ʼn plaaslike kuierplek te gaan drink. Toe sy Maandagaand laat by die huis kom, was die kind weg,” het Melani gesê.
Die ma en bure het na die kind begin soek en haar uiteindelik in ʼn veld in die Vuyowethu informele nedersetting gekry. Sy was reeds verkrag toe hulle haar opgespoor het. ʼn Inwoner het die kind glo saam met die verdagte sien loop voor die insident plaasgevind het.
Die verdagte moet Woensdag in die Steytlerville-landdroshof verskyn.
Die kind se ma is ook in hegtenis geneem en gaan van kinderverwaarlosing aangekla word. Sy moet ook Woensdag in die hof verskyn. Die kind is onder toesig van maatskaplike werkers geplaas.