60 000 minder huiswerkers as in 2003

Die aantal huiswerkers in Suid-Afrika het gedurende die afgelope tien jaar aansienlik afgeneem.

Huiswerkers (wat huishulpe, tuinwerkers en sekuriteitswagte by private woningsinsluit) het oor die afgelope paar jaar met 5% afgeneem – van 1 215 000 in 2003 na 1 153 000 in 2012.

Dié inligting blyk uit inligting in die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV) se 2012-uitgawe van die South Africa Survey, ‘n jaarlikse publikasie waarin ‘n groot hoeveelheid inligting uit verskeie ander bronne saam vervat word. Die data oor huiswerkers is spesifiek afkomstig uit ‘n 2003-uitgawe van Statistiek Suid-Afrika se Labour Force Survey en ‘n 2012-uitgawe van Statistiek Suid-Afrika se Quarterly Labour Force Survey.

Georgina Alexander, navorser van die SAIRV, sê die afname is betekenisvol omdat die land se middelklas oor dieselfde tydperk toegeneem het. Die gemiddelde huishoudelike inkomste het ook gedurende die afgelope dekade met meer as 113% toegeneem.

“Die afleiding wat ʼn mens kan maak, is dat Suid-Afrika se middelklas minder geneë is om huiswerkers aan te stel as wat in die verlede die geval was,” sê Alexander. “Ons weet glad nie wat die rede hiervoor is nie en kan maar net spekuleer daaroor.”

Sy sê strenger arbeidswetgewing, minimumloonregulasies, veiligheidsoorwegings, kleiner huise en eiendomme, en rasse- en kulturele verskuiwings in die gesindheid van die middelklas kon alles moontlik tot die afname bygedra het. Toenames in elektrisiteits-, brandstof- en ander tariewe en hoër huishoudelike skuld kon ook ʼn rol gespeel het.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.