60 beseer toe kar groep mense by optog tref

Trail Days-optog

Ten minste 60 mense is Saterdag beseer toe ‘n motor by ‘n optog in Virginia, Amerika, tussen ‘n groep mense in geploeg het.

Die voorval het tydens die stappersoptog by die Trail Days-fees, ‘n jaarlikse viering van die Appalachian-staproete in Damascus, Virginia plaasgevind, berig CBCNews. Pokey Harris, direkteur van nooddienste vir Washington County, het gesê niemand is dood nie, en die slagoffers het geringe tot ernstige beserings opgedoen. Drie van die slagoffers is met ‘n helikopter na streekshospitale geneem. Ten minste 12 mense is met ‘n ambulans na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Die res is op die toneel behandel.

Bill Nunley, hoof van Damascus-polisie, het tydens ‘n mediakonferensie nie die bestuurder van die 1997 Cadillac-motor se naam of ouderdom bekendgemaak nie, maar talle ooggetuies het hom as ‘n bejaarde beskryf. Nunley sê die man se motor was een van die laaste voertuie in die optog en dit is moontlik dat hy dalk ‘n mediese probleem opgedoen het toe sy motor tot ongeveer 40km/h versnel en die groep mense getref het. Die bestuurder is ook na die hospitaal geneem. “Die saak word ondersoek en dit is moontlik dat klagtes gelê gaan word,” het Nunley bygevoeg.

Nunley het die polisie, brandbestryders, paramedici en stappers vir hul die “blitsige optrede” geëer. ‘n Vrywilliger-brandbestryder het in die motor ingespring om die enjin af te skakel. Hy het slegs geringe beserings opgedoen.

Sowat 1 000 mense het aan die optog deelgeneem.

Die motor het glo ‘n plakker opgehad vir persone wat van gestremde parkering gebruik mag maak.

“Hy het van die stappers getref,” het Vickie Harmon, ‘n ooggetuie, gesê. Amanda Puckett, inwoner van Damascus wat die optog saam met haar kinders bygewoon het, het na die motor gehardloop. Sy en ander het glo die motor opgelig om die slagoffers, wat onder die motor vasgekeer is, te help. “Almal het net hul hande op die motor gesit en ons het hom opgelig,” het sy gesê.

Burgemeester Jack McCrady het mense aangemoedig om die fees Sondag, op die finale dag, ook by te woon. “Ons het in die afgelope 27 jaar nog nie só tragedie beleef nie, en dit is ons plig om seker te maak dit gebeur nie weer nie,” het hy gesê. ‘n Donasiefonds is glo gestig om die beseerdes by te staan wat nie die mediese uitgawes kan bekostig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.