Sowat 61 kinders, tussen die ouderdom van 5 en 10, asook drie onderwysers is Woensdagoggend deur ‘n swerm bye in Kaapstad aangeval.
Chris Botha, ‘n woordvoerder van Netcare 911, sê die voorval het omstreeks 10:00 in Bellville plaasgevind. “Die kinders was by ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes toe iets die bye aggresief gemaak en veroorsaak het dat die swerm die kinders aanval,” het Botha gesê.
Volgens Botha is van die kinders wat kritiek beseer is, deur privaatvoertuie na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas. “Die res van die kinders is deur paramedici op die toneel behandel waarna hulle na verskeie hospitale geneem is vir verdere behandeling,” het Botha gesê.