630 polisiebeamptes na Marikana gestuur

Foto: Taurai Maduna/EWN

ʼn Totaal van 630 polisiebeamptes is na die Marikana-streek naby Rustenburg gestuur voor 34 mynwerkers op 16 Augustus deur die polisie doodgeskiet is.

Lt. kol. Duncan Scott het vandag voor die Farlam-kommissie van ondersoek getuig oor die wapens en ander hulpbronne wat deur die polisie gebruik is tydens hul ingryping by Marikana. “Op daai dag (16 Augustus) het ons 630 polisiebeamptes op dagskof gehad en 88 lede was op nagskof.” Scott het getuig oor ʼn hoëvlak-vergadering wat omstreeks 6:00 die oggend van die skietery plaasgevind het. “Inligting is deurgegee dat die betogers steeds op die grond was en met gevaarlike wapens. Misdaadintelligensie het ook gesê dat die situasie gespanne was.” Tydens die vergadering is daar ook bespreek waar die polisie sy Njalas en ander hulpbronne moes plaas.

Lt. kol. Victor Visser het vroeër die oggend getuig rakende die gebeure van 13 tot 15 Augustus. Hy het getuig oor die geweld en moorde wat glo deur die betogers gepleeg is. Visser het ʼn foto van ʼn myntoesighouer wat doodgekap is aan die kommissie gewys. “Nie die polisie, en ook nie hul kollegas, is deur die betogers gespaar nie. Die liggaam van die toesighouer is verskeie kere gekap en ʼn kopbeen is op sy bors geplaas.” Daar is ook videomateriaal gewys van twee polisiebeamptes wat glo deur die betogers vermoor is. Die een polisiebeampte het diep snye aan gesig gehad terwyl die ander beampte ʼn diep wond agter aan sy kop gehad het en in die bors geskiet is. Visser het getuig dat polisiebeamptes in ʼn helikopter het die aanskou hoe hulle kollegas vermoor is.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.