7-jarige glo deur Kersliggies geskok by V&A Waterfront

Kersfeesuitstalling by V&A Waterfront Foto deur die gebruiker @VandAWaterfront op Twitter gelaai

Die sewejarige Zachery-Levi Herskovitz is op Nuwejaarsdag deur ‘n Kersfeesliggieuitstalling by die V&A Waterfront in Kaapstad geskok.

Cape Times berig die winkelsentrum sal ‘n eksterne ondersoek van stapel stuur. Die seun se pa, Eytan Herskovitz van Tamboerskloof, sê Zachery-Levi is na Christiaan Barnard-hospitaal geneem nadat hy aan die uitstalling in die Breakwater-parkering geraak het. Daar was glo ontblote elektriese drade in die uitstalling.

“Die saak word baie dringend hanteer en sal deeglik ondersoek word om enige bewerings te staaf,” het Carla White, woordvoerder vir V&A in ‘n e-pos aan Cape Times gesê. ‘n Eksterne ingenieur is glo aangestel om die ondersoek uit te voer.

Die gesin is glo na die Waterfront vir ‘n laat middagete op Nuwejaarsdag en het na hul motor teruggekeer toe die beweerde voorval plaasgevind het.

Alhoewel die finale verslag eers later dié week vrygestel sal word, het White gesê die familie het tot dusver nog geen stawende mediese bewyse aangestuur nie. “Dit wil voorkom of die erns van die saak oordryf word.” Volgens White is geen ander beserings tydens die feesseisoen aangemeld nie.

Volgens Herskovitz het die trauma van die voorval sy gesin sielkundig geskend en hul beplande vakansie aan die ooskus ruïneer. “My seun het baie paniekerig geraak toe hy weer Kersliggies gesien het,” het Herskovitz bygevoeg.

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.