7-jarige word glo verkrag terwyl ma sit en drink

Die ma van ʼn 7-jarige dogtertjie van die Vrystaat sal moontlik van kinderverwaarlosing aangekla word, aangesien sy saam met haar vriendin gaan drink het terwyl haar dogter verkrag is.

Die dogtertjie het Maandag mediese behandeling ontvang na sy verkrag is en in ʼn poel bloed in ʼn plakkershuis in Bronville gelaat is, het die polisie gesê. Ao Malebo Khosana het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van kinderverwaarlosing teen die ma wat glo saam met ʼn vriendin gaan drink het. Die vriendin se driejarige kind was Saterdagaand saam met die sewejarige opgesluit, maar was nie beseer nie. Volgens Khosana het een van die bure Sondag omstreeks 08:00 gesien dat iemand by die plakkershuis ingebreek het. Sy het gaan ondersoek instel en die kind binne het gevra dat sy die deur moet oopmaak. “Die buurvrou het gesê sy het in die huis ingeloer en gesien die kind lê op ʼn bed wat met bloed bevlek is.” Die buurvrou het die polisie en die kind se pa ontbied, wat ook in Bronville bly. Die kind het aan haar pa gesê dat sy deur ʼn man verkrag is wat een van die sinkplate oopgeforseer het. Daar was glo ook twee ander mans teenwoordig tydens die voorval.

Khosana het gesê iemand het toe na die shebeen gegaan om die moeders te gaan haal, waar hulle steeds bier gedrink het. Die polisie vermoed dat die moeders die kinders Saterdagaand in die plakkershuis toegesluit het en toe gaan drink het. Die polisie is steeds op soek na die drie mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.