75-jarige man van JHB aangeval, vermoor

Derek Cornelius (75) van Roodepoort, Johannesburg, se dogter het hom Woensdag dood aangetref in sy huis.

“Cornelius moes sy kleinkinders by die skool gaan haal het, maar sy dogter, Lindsay, het ondersoek gaan instel toe hy nie opgedaag het nie,” het ao Karen Jacobs, woordvoerder van die polisie, aan Beeld gesê. Lindsay het haar pa se liggaam glo in sy slaapkamer in sy huis in Weltevredenpark aangetref. “Hy het altyd die kinders by die skool gaan haal. Sy het agterdogtig en bekommerd geraak toe hy nie opdaag nie,” het Jacobs bygevoeg.

Volgens Jacobs lyk dit of Cornelius doodgeslaan is, maar ʼn nadoodse ondersoek sal meer besonderhede verskaf. “Daar is nie ʼn teken van ʼn geforseerde toegang nie, maar twee selfone en ʼn Xbox is gesteel.”

Cornelius se bure sê daar is ʼn toename in misdaad in die gebied en dat die inwoners baie besorg is, alhoewel hulle gemeenskapspolisiëringspogings verskerp het. Robert Perry, wat sowat 2km van Cornelius af bly, het gesê iemand het Donderdag by sy huis ingebreek en dat die polisie twee verdagtes aangekeer het.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.