76-jarige pa spring tronkstraf vry ná twee moorde

Kevin en Kim McGuirk wat deur Poppinger doodgeskiet is Foto: irishnewsreview.net

Franz Poppinger, ʼn 76-jarige man van Alberton wat sy dogter en haar man vermoor het, is van tronkstraf vrygespreek.

Poppinger is Maandag in die hooggeregshof in Palm Ridge, Tokoza, tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis, insluitend huisarres vir die “impulsiewe moorde”, berig Beeld.

Regter Geraldine Borchers het in haar uitspraak gesê Poppinger se ouderdom en swak gesondheid, wat diabetes, asma en hartprobleme insluit, maak dit byna onmoontlik om hom tot die voorgeskrewe 15 jaarlange tronkstraf te vonnis.

Poppinger het sy dogter, Kim McGuirk (34) en haar man, Kevin (54) op 15 Augustus 2011 in hul bed by sy huis in Alberton doodgeskiet. Kevin, oorspronklik van Balgriffin in Ierland, is in die rug geskiet en Kim is in die kop geskiet. Kevin was besturende direkteur van Africa Diving, ‘n skubaduikmaatskappy in Alberton.

Borchers sê sy het geen twyfel dat maande en selfs jare lange spanning tussen Poppinger, sy dogter en sy skoonseun, nie net van die beskuldigde af gekom het nie, en dat dié spanning op die dag van die moorde ʼn hoogtepunt bereik het. McGuirk het glo vroeër ʼn beskermingsbevel teen haar pa gekry weens sy woede-uitbarstings, maar hy het ook glo in vrees in sy eie huis geleef. Hy het homself glo soms in sy kamer toegesluit en melkbottels in plaas van die toilet gebruik.

Volgens Poppinger se getuienis en verslae wat aan die hof voorgehou is, het sy dogter en skoonseun nie die telefoon- of elektrisiteitsrekeninge vereffen nie, en dít was glo ʼn groot bron van ontevredenheid.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gawie Botha ·

Hierdie persoon is n gevaar vir die burgers van Suid Afrika,en so n perrsoon behoort agter slot en grendel,punt…stop!

Mariette Hammann ·

Hierdie vonnis is ‘n skande!! Dit stuur die boodskap uit dat mens maar mag moor!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.