Een van die aktrises van 7de Laan was Woensdag in ʼn botsing op die N1-deurpad betrokke.
Maroela Media het vertroulik verneem dat ʼn voertuig van agter af in Themsie Times, beter bekend as Maria Zibula van die sepie 7de Laan, se voertuig vasgery het. Die ongeluk het op die deurpad, suid van Gordonweg-afrit naby Roodepoort plaasgevind.
ER24 het bevestig dat hulle ʼn vroulike pasiënt van die omgewing, waar die botsing plaasgevind het, na ʼn nabygeleë hospitaal geneem het vir verdere behandeling. Sy is nie ernstig beseer nie.
Dit is die tweede keer wat die noodlot sedert gister karakters van dié sepie tref. Maroela Media het vroeër vandag berig dat Goliath Davids, Christo Davids se oupa, Dinsdagaand oorlede is. Christo vertolk die rol van Errol Pieterse in die sepie. Lees meer hier.