8-jarige beseer toe boom op haar val

‘n Agtjarige dogter is Vrydag by haar laerskool in Rawsonville in die Wes-Kaap ernstig beseer toe ‘n ontwortelde boom op haar geval het.

Sy is tans in ‘n stabiele toestand in die Worcester-hospitaal, berig EWN. Die voorval het by Laerskool Weltevreden plaasgevind. “Sy is na die hospitaal gebring en daar is bevind dat sy ‘n gekraakte bekkenbeen het,” het Joanne Otto, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Wes-Kaap, gesê. “Sy het laat Vrydagmiddag ‘n operasie ondergaan en is tans in ‘n bevredigende toestand.”

Ten minste 41 bome is ontwortel en verskeie dakke van geboue in die Wes-Kaap afgewaai weens die stormsterkte winde wat tans woed. Vier vragmotors is Vrydag op die N1 naby Paarl omgewaai.

Kylie Hatton, woordvoerder van die stad Kaapstad, het Saterdagoggend gesê tegnici spook om die elektrisiteitstoevoer na verskeie woonbuurte in Kaapstad te herstel. “Ons ondervind kragonderbrekings hoofsaaklik weens takke wat val en onderbrekings veroorsaak.

‘n Hele aantal skepe is ook Vrydag gedwing om in die Kaapse hawe te anker. Volgens The Mediterranean Shipping Company was die windspoed tot 65 knope (120 km/h) wat dit gevaarlik maak vir skepe om te seil. Die weerburo verwag winde Sondag van ongeveer 30 km/h.

Klik hier om IOL se foto’s te sien van die vragmotors wat omgewaai het en die bome wat ontwortel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.