8-jarige sterf in bendegeweld

Junaid McKenzie se suster, Shamiela (links) en sy ma, Mariam (regs)

ʼn 8-jarige seuntjie het Woensdag in die spervuur tussen twee bendes in Melody Square, Steenberg, gesterf.

Mogamat Junaid McKenzie is in die kop geskiet en het drie ure later in die hospitaal gesterf, berig Cape Times. ʼn 34-jarige vrou, wat ook ʼn slagoffer was, sterk tans in die hospitaal aan nadat sy in haar been geskiet is.

Junaid se ma, Mariam McKenzie, is nog te geskok om oor die voorval te praat. Hy was ʼn gr. 2-leerling by Laerskool Steenberg en glo ʼn aktiewe seuntjie wat graag pret gehad het. Shamiela McKenzie, Junaid se sussie, sê hulle is gewoond aan bendegeweld in Melody Square. “Dit moet iewers ophou, te veel onskuldige kinders kry seer,” het sy gesê. “Die polisie doen nie hier patrollie nie, want hulle is net so bang vir die bendelede.”

Volgens ʼn buurvrou, Nadine Playton, is die bende-oorlog tussen The Junkie Funky Kids en The Corner Boys. “Ek is in die oggend te bang om werk toe te gaan. Ek is te bang om terug te kom huis toe, want ek weet nie wat vir ons wag nie,” het sy bygevoeg.

Arno Lamoer, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die Wes-Kaap sal bykomende polisiebeamptes ontplooi, nou saam met die metropolisie te werk gaan en voortgaan met klopjagte op plekke waar bendes gereeld vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.