80% van leerders wat aan studie deelneem gebruik alkohol

Nagenoeg 80% van ʼn groep Gauteng hoërskoolleerders wat aan ʼn opname deelgeneem het, gebruik gereeld alkohol, luidens bevindinge deur die Buro vir Marknavorsing (BMR) wat Sondag vrygestel is.

Van die 4 346 leerlinge in graad 8 tot 12 wat aan die navorsing deelgeneem het, het 66.6% gesê dat hulle al dronk was, 44.8% het aangedui dat hulle al aan oormatige drinksessies (“binge drinking”) deelgeneem het en 79.4% gebruik gereeld alkohol. Volgens Antoinette Basson van die BMR se jeugnavorsingseenheid (YRU), is die studie motiveer deur die behoefte aan kontemporêre inligting oor die onderwerp wat, volgens haar, groot druk op die Suid-Afrikaanse samelewing plaas. “Die YRU navorsing het bevind dat leerders hulself gereeld in situasies bevind waar onwettige dwelmmiddels en alkohol vryelik beskikbaar is en deur hul klasmaats gebruik word, wat weerstand baie moeilik maak.” Leerders het aangetoon dat hulle die middele vir stresverligting en ontspanning gebruik.

Bykans 3 in elke 10 leerders, dit wil sê 26.9%, wat aan die studie deelgeneem het, het aangetoon dat hulle onwettige dwelmmiddels gebruik, waarvan dagga die gewildste is. ʼn Totaal van 95.4% van die dwelmgebruikers het aangedui dat hulle dit gebruik het. Sigaretrook en waterpype word al hoe meer gewild onder hoërskoolleerders, veral meisies. Meer as helfte van die leerders wat aan die studie deelgeneem het (53.8%) het gesê hulle vertrou dat hul ouers hul raad sal gee oor dwelmmisbruik en alkoholverbruik. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.