81% wil glo Pretoria se naam behou

Pretoria, die Jakarandastad

Die burgerregte-organisasie AfriForum het betroubaar verneem dat 81% van die lede van die publiek wat deelgeneem het aan die Tshwane Metroraad se openbare deelnameproses oor die verandering van Pretoria se naam, standpunt ingeneem het ter behoud van die stad se naam. Slegs 19% het aangedui dat Pretoria se naam na Tshwane moet verander. Die openbare deelnameproses het einde verlede jaar plaasgevind, nadat die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, die Metroraad opdrag gegee om die openbare deelnameproses te volg en ‘n verslag daaroor aan die ministerie te stuur.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie se regspan reeds begin met die proses om ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting (No. 2 van 2000) te eis dat die Metroraad en die minister die verslag oor die openbare deelnameproses aan AfriForum beskikbaar stel. “AfriForum wil met hierdie stap toesien dat die oorweldigende steun ter behoud van Pretoria se naam nie verdoesel kan word wanneer die minister ʼn besluit oor die naamsverandering neem nie,” het Kriel bygevoeg.

Kriel het gesê dat die oorweldigende steun vir Pretoria se naam daarop wys dat pogings om die stad se naam te verander slegs deur ʼn klein groepie politieke ideoloë gedryf word ten koste van die openbare mening.

Volgens Kriel is die oorweldigende steun vir Pretoria se naam veral indrukwekkend indien in ag geneem word dat die Metroraad verskeie pogings aangewend het om die openbare deelnameproses ten gunste van ʼn naamsverandering te manipuleer. “Selfs nie taktiek soos die uitstel van die openbare vergaderings waar min ondersteuners van die naamsverandering opgedaag het en die gebruik van intimidasiestrategieë en partydige voorsitters tydens die vergaderings, kon daarin slaag om die oorweldigende steun vir Pretoria se naam te ondermyn nie,” het Kriel gesê.

Kriel het aangevoer dat die minister nie die oorweldigende steun vir Pretoria se naam en prosesfoute wat sedert 2005 in die naamsveraderingsproses gemaak is, eenvoudig kan ignoreer wanneer hy oor die naamsverandering besluit nie. “AfriForum se regspan is daarom gereed om enige besluit om Pretoria se naam te verander, in die howe te beveg,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.