Twee mense, waaronder ʼn 9-jarige dogtertjie, is Dinsdagoggend kritiek en vier mense ernstig beseer ná ʼn motor en ʼn bakkie op die R21-snelweg gebots het. Die ongeluk het naby Olifantsfontein, in die rigting van Kemptonpark, plaasgevind.
Jeffrey Wicks, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het aan Maroela Media gesê die motor het onklaar geraak en op die snelweg gaan staan toe die bakkie van agter daarin vasgery het.
Die twee kritieke pasiënte is per helikopter na ʼn hospitaal in Johannesburg geneem. Van die bane in verskeie rigtings moes gesluit word om toe te laat dat die helikopter land. Die ander vier pasiënte is op die toneel stabiliseer en per ambulans na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling.
Verkeervloei in albei rigtings van die snelweg was erg vertraag.