9-uurlange verkragting: meisie ontsnap én oorleef

Die polisie ondersoek ʼn saak van verkragting van ʼn 16-jarige meisie van Letsitele aan die buitewyke van Tzaneen.

Daar word beweer dat die meisie Saterdag om 18:30 deur ʼn manlike vriend vergesel is toe vyf mans by hulle aangesluit het. Die meisie is glo na ʼn leë huis geneem en vasgepen deur die ses minderjarige seuns, almal tussen die 15 en 17 jaar oud. Die meisie is daarna om die beurt deur die seuns verkrag vanaf 19:00 tot 04:00.

Die meisie het daarin geslaag om die beproewing van nege ure te oorleef en het na bewering deur ʼn gebreekte venster ontsnap. Die meisie het dadelik ʼn voetganger in kennis gestel van die voorval en die polisie is onmiddellik ontbied. Die slagoffer is daarna na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir mediese behandeling.

ʼn Intensiewe soektog is volgens woordvoerder, Hangwani Mulaudzi, van stapel gestuur, waarna vyf van die verdagtes vinnig vasgetrek is. Die sesde verdagte is Sondagaand omstreeks 19:00 vasgetrek.

Die polisie-ondersoek het aan die lig gebring dat die vermeende verkragters glo, volgens ooggetuies, alkohol gebruik het.  Polisie ondersoek ook die verkoop van alkohol aan minderjariges in dié gebied. Die ondersoek sal bepaal of die besigheid in Ngwamitwa (Letsitele), die drankwet oortree het en ook of die besigheid permanent gesluit moet word.

 

Lt.gen. Simon Mpembe, provinsiale kommissaris, het in die sterkste moontlike terme die vermeende verkragters veroordeel. “Die vlaag van verkragtings in Limpopo het onaanvaarbare vlakke bereik. Hierdie veragtelike misdaad hoort nie in ons vrye en demokratiese samelewing nie. As seksuele misdrywe vroue, babas en jong meisies beïnvloed, behoort elke ouer bekommerd te wees oor die veiligheid van hul kinders,” het Mpembe gesê.

Mpembe wens die polisie geluk met hul knap taak om al die beweerde verkragters vas te trek. Hy is vol vertroue dat die hof die felste en swaarste vonnis oor die verdagtes sal uitspreek. “Daardeur sal die hof ʼn boodskap aan verkragters stuur dat die misbruik van vroue en kinders nie geduld sal word nie.”

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Ritavi verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.