900 000 e-tolskyfies uitgereik

e-tolDie Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Woensdag gesê nagenoeg 900 000 e-tolskyfies is aan motoriste in Gauteng uitgereik.

“Altesaam 890 388 VLN/e-tolskyfies is tans uitgereik,” het Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, in ʼn verklaring gesê. “Implementering verloop volgens plan.”

Die e-tolstelsel is verlede week Dinsdag in werking gestel in Gauteng. Motoriste sonder ʼn e-tolskyfie het sewe dae om te betaal vir die gebruik van tolpaaie in Gauteng. Ná die sewe dae word transaksies geprosesseer en fakture word uitgereik. “Die eerste sewe dae ná die aanvang van e-tol het gisteraand tot ʼn einde geloop en dit is dus nog te vroeg om kommentaar te lewer oor die uitreik van fakture vir e-toltransaksies wat nog nie binne sewe dae betaal is nie,” het Mona gesê. “Die interne proses verloop tans glad.”

Mona sê die wetlike verpligting om e-tol te betaal spruit uit die gebruik van tolpaaie en wanneer ʼn motoris onderdeur ʼn tolhek ry. “Die wetlike verpligting spruit dus nie uit ʼn faktuur wat aan ʼn gebruiker gestuur word nie.”

Kragtens regulasies het ʼn gebruiker ʼn grasieperiode van sewe dae om die tolgeld te betaal. Mona sê 42 van die 45 tolhekke is ten volle operasioneel. “Die laaste drie tolhekke sal binnekort operasioneel wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Vusi Mona belowe vir ons jy praat die waarheid oor ” …Die interne proses verloop tans glad”

hyla ·

Nou ja, nou wag ons om te sien hoe gaan hulle al die mense wat nie betaal voor die hof kry. Ons het nie genoeg mannekrag of ure of die wil om dit aan te spreek nie. Genugtig, sake van belang soos moord en verkragting word nou al vir tot 3 jr uitgestel want die howe is oorwerk en oorval. GET REAL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.