97% studente stem vir afskaffing van rasseklassifikasie

Argieffoto: wvu.edu

AfriForum Jeug het pas die uitslag van ‘n referendum oor rasseklassifikasie aan die Universiteit van Pretoria (UP) bekendgemaak, deur ‘n banier vanuit die kliëntedienssentrum op die kampus te hang. Die referendum het gehandel oor die vraag: “Moet rasseklassifikasie steeds gebruik word by die UP?” Die uitslag toon dat 97% van studente nie volgens ras geklassifiseer wil word nie.

Die referendum het spesifiek gehandel oor die rasgebaseerde keuring van studente in sekere fakulteite, beurstoekennings en huiskomiteeverkiesings. Ongeveer 2030 studente het aan dié referendum deelgeneem en het oorweldigend “JA” gestem vir die afskaffing van rasseklassifikasie aan die UP.

“AfriForum Jeug het die afgelope drie jaar al meer klagtes ontvang van studente wat beurse, toegang tot die universiteit en leierskapsposisies ontsê is weens die kleur van hulle vel. Dié referendum is ʼn sterk teken van studente se ontevredenheid oor die universiteit se onbillike en eensydige praktyke by beleidformulering,” het Barend Taute, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies, gesê.

AfriForum Jeug het ʼn memorandum aan die UP oorhandig met die volgende versoeke:

  • dat toelating tot fakulteite, veral die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en Veeartsenykunde slegs op grond van en in volgorde van meriete toegestaan word. Daar moet glad nie tydens die aansoekprosedure van voornemende studente vereis word om hulle ras aan te dui nie;
  • dat ras nie as bepalende faktor gebruik word vir die toekenning van beurse wat direk deur UP aan studente toegeken word nie;
  • dat die kwotas vir huiskomitees in alle koshuise verminder word vanaf 5 na 2 kwotalede per HK om koshuise geleidelik van rassevoorskrifte vry te stel.

“Dié referendum, wat onder alle rasgroepe by die UP gevoer is, behoort as grondslag vir alle verdere beleidsvorming gebruik te word, asook vir die aanpassing van bestaande rasgebaseerde beleid,” het Taute gesê.

AfriForum Jeug het verder gesê dat, hoewel die referendum nie ‘n statistiese studie is nie, dit wel aandui dat studente nie volgens hulle ras in ‘n sekere kategorie geplaas wil word nie, soos wat universiteite en regeringsbeleid dikwels voorskryf.

Kampussekuriteit het tydens die onthulling daarop aangedring dat AfriForum Jeug die banier onmiddellik moet verwyder.

Die referendum vorm deel van AfriForum Jeug Tukkies se veldtog om studente se stem te laat hoor oor kernbeleidskwessies wat deel vorm van die Universiteit van Pretoria se 2025-toekomsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.