Aangrypende foto: “Ons gaan dit saam doen”

Ryan Gregg (geel) en Michael Stefanon (groen)

‘n Fotograaf in Washington D.C. in Amerika het ‘n kosbare oomblik tydens ‘n marathon tussen twee drawwers vasgevang.

Simon Rakoff het verlede Saterdag tydens die Rock ‘n’ Roll VSA-marathon aan die kantlyn gestaan en wag vir sy vrou, Jodi, om klaar te maak. Hy het toe gesien hoe Michael Stefanon van Virginia (in groen) vir Ryan Gregg van Michigan (in geel) ondersteun.

Gregg, ‘n 32-jarige pa, was sowat 200m van die eindstreep af toe hy tekens begin toon het dat hy sy bewussyn gaan verloor. Stefanon was ook al baie moeg toe hy gesien het hoe Gregg sukkel. “Hoe nader ek aan hom gekom het, hoe meer het sy toestand versleg,” het Stefanon (44) aan Runner’s World gesê. “Dit het gelyk of hy agteroor gaan val. Ek het besef hy het my hulp nodig.”

“Die laaste wat ek onthou is dat ek heen en weer begin wieg het, en toe het iemand my van agter af gegryp en gekeer dat ek op my rug val,” het Gregg verduidelik. “Die persoon het gesê hoe ek gaan klaarmaak en my vorentoe gedruk.” Stefanon het Gregg stabiliseer en gesê: “Ons gaan dit saam doen.”

Met behulp van twee wedrenbeamptes, het beide hardlopers die oorblywende paar meter klaargemaak.

Gregg het sy medalje en die noodsaaklike mediese behandeling ontvang.

Rakoff, wat die foto geneem het, het aan die Huffington Post gesê die foto het meer as net ‘n enkele oomblik vasgevang. “Die belangrikste deel van die storie is dat ons nie iets groot hoef te doen nie. Dit vat nie baie van jou om iemand anders te help nie. Maar daardie hulp beteken so baie, en die vermoë om iemand in ‘n breukdeel van ‘n sekonde te help is ‘n geskenk vir alle betrokke partye,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

Laat mens dink aan ons eie Comrades…. ek is gewoonlik meer geinteresseerd in daardie laaste minute voordat die pistool klap vir die afsnytyd: Dit is dan wat mens soortgelyke aangrypende oomblikke sien, ook dat blindes toegelaat word om “comrades” te hê in siende mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.